DEUR MARLISE ROBBERTZE
Hier is ek nou weer in Port Elizabeth, en ek moet myself heeltyd gerus stel dat ek nou niks meer aan my lot kan doen in verband met wat Sondag 2 April vir my voorlê nie. My voorbereiding wat ek sodanig beplan het vir HIERDIE Ironman het nie so glad verloop soos ék beplan het nie…die ITB-besering waarmee ek geworstel het vanaf laasjaar Junie het my aanvanklik bietjie mismoedig laat word ten opsigte van my oefening, sodanig dat ek maar vir myself getroos het: “Hierdie Ironman gaan ek net doen vir oefening, en tien teen een die hele run moet stap aangesien ek mos nie kan hardloop nie!” Maar, nou is die dag hier en ek is opgewonde – tog senuagtig – oor hoe ek gaan voel op hierdie tawwe dag! Met jou eerste Ironman gaan jy die resies in met die idee: “ek gaan net kyk of ek kan klaarmaak”; noudat mens weet jy HET dit al gedoen, is daardie onsekerheid darem nie daar nie, maar nogtans het ek geweet elke race het sy eie uitdagings. Ek staan LANK in ‘n ry en wag vir ‘n toilet, die beamptes skreeu dat ons nog net 3 minute het voordat transition sluit en ek trek inderhaas my wetsuit vinnig aan in die benoudheid dat ek dalk te laat hier gaan uitkom. Op pad na die start kry ek my man, Nico en vriendin Adéle, ek gee vir hom my fietspomp en my streetwear-sak. Ek gee hom ‘n soen en ‘n stywe druk… en daar kom die trane in ons albei se oë. Hierdie is ook sy droom en hierdie keer moet ek dit alleen doen want hy herstel van ‘n besering! Ek kry ‘n paar mense wat ek ken terwyl ons staan en wag en die gesels laat my tog ontspan. Dis my beurt om weg te spring en meteens is ek in die water en daar gaan ons… Tot by die 1ste rooi boei swem ek lekker gemaklik…totdat ek moet draai…ek voel soos ‘n klein bootjie wat dobber op die groot oop see, en omdat ek gewoonlik regs asemhaal, sluk ek met amper elke asemteug ‘n hengse sluk seewater. Die op-en-af deinings in die water en die BAIE water wat ek sluk veroorsaak dat ek amper seesiek wil word. Al wat ek vir myself heeltyd sê is: “jy sal NIE nou siek word nie, want dan is jou hele race ‘n naar storie” Nadat ek by die 3de rooi boei gedraai het op pad huis toe, gaan dit beter en kan ek lekker asemhaal en my ritme kry. Ek swem ‘n 1:19:09. By transition 1 trek ek rustig my fiets gereedskap aan, hardloop tot waar ons kan opklim en daar gaan ek, en SO dankbaar dat ek nie naar is na die swem nie!!! Die 1ste 45Km verbaas ek myself op die fiets en dat ek so goed voel, en ek bid gedurig. Ek sê dankie aan my Skepper dat ek hierdie dinge kan doen! Op pad terug met 1ste loop stop ek eers by ‘n toilet en strek so bietjie uit… die rit terug is wel bietjie swaarder en ek begin die uitdaging op die fiets nou voel met ‘n lae rugpyn wat knaend is maar ek kan nie bekostig om op te hou fokus nie, want ek wil nie onnodige tyd mors nie. Die 2 km voordat ek draai vir die 2de “loop” sien ek my man Nico, my kinders, ouers en vriendin en dadelik verdwyn al daardie klein skete (vir ‘n rukkie). Ek glimlag van oor-tot-oor soos my kindertjies op die sypaadjie langs my hardloop. Nico bemoedig my so dat ek op pad uit met die 2 de loop sommer trane in my oë het. Die 2de loop uit Port Elizabeth verloop weereens verbasend goed en ek praat heeltyd met myself om aan te hou hard werk sodat my average spoed kan verbeter. Die gedagte dat ek myself nie TE hard op die fiets moet druk sodat ek darem nog iets in my bene oor het vir die run, bly heeltyd by my opkom… maar tog ry ek so lekker dat ek nie eintlik meer weet hoeveel is TE hard of wat is NET genoeg nie. Alles gaan goed en op pad terug kry ek ‘n vrou wat langs die pad vra of iemand nie dalk ‘n ekstra bomb (compressed air) vir haar het nie. Ek stop toe en gee vir haar ‘n bomb en besef dat ék dit baie sou waardeer as iemand my in ‘n krisis sou help. Ek besluit om my laaste toilet-stop te maak aangesien ek nie weet hoe besig dit by transition gaan wees nie, voor ek verder ry strek ek eers weer! Die laaste 20 km voor transition ry soos ‘n droom! Ek trap teen ‘n lekker hoë cadence soos my afrigter my aanbeveel het. By transition bêre ek my fiets, draf stadig na my run bag en ek kan byna nie glo dat my bene so verbasend goed voel na die 180km fietsrit nie! Ek eindig op 6:26:38. My 1ste km op die run kyk ek na my horlosie en wonder of die ding nie dalk stukkend is nie, want hy wys my pas is 4:45 min p/km. Maar as ek rondom my kyk, voel dit of my pas 6:00min p/km is. Ek besef HIERDIE pas sal ek nie kan handhaaf nie want my rug voel skielik of hy wil afbreek en ek besluit dat ek sal MOET stop en strek anders gaan hierdie ‘n baie lang en moeilike run wees. Die 1ste en 2de rondtes van die run was vir my verskriklik swaar en die gedagte om te stop en loop kom heeltyd by my op. Elke water-stasie loop ek en drink Coke of water of High 5 en dit voel of my dors net nie gelês word nie. Nico draf langs my as ek by hulle verby kom en gee my info van my coach van hoe ek myself moet pace en ek hou dit heeltyd in my gedagtes. In die helfte van die 2de rondte besluit ek: “Nou gaan ek sommer loop” en toe besef ek hoe spyt ek gaan voel aan die einde as ek as gevolg van loop nie die tyd gaan maak waarvoor ek gehoop het nie. Ek onthou die sin wat my coach die vorige aand vir my gesê het: “Jy moet nie aan die einde van die wedloop voel dat jy nog kon gee nie… Jy moet weet en voel dat jy ALLES wat jy kon, gegee het!” My voete begin skielik voel of hulle wil kramp, en ek konsentreer daarop om my voete so neer te sit dat hulle nie kramp nie. Gelukkig gaan die laaste 20km beter. Ek gee werklik my ALLES in die laaste 3 km op pad na die einde en ek voel soos ‘n celebrity toe ek by die finish se rooi tapyte inhardloop! Hulle kondig aan: “Here comes Marlise Robbertze with a big smile on her face” en weet dat ek dit bereik het wat ek gehoop het! My tyd is meer as 1 uur 30 minute vinniger as verlede jaar - 11:53:29. Ek glimlag en kry trane in my oë van dankbaarheid en besef: “HIERDIE WAS DIT ALLES DIE MOEITE WERD!!!!!”
1 Comment
|
AuthorsThis blog is written by the coach and athletes associated with Trivium. Categories
All
Archives
October 2022
|